Ons leerproses
Wat KleuterAkademie alles doen om kinders se leerproses te ondersteun
KleuterAkademie lê sterk klem op leer deur ontdekking en ervaring.
Die leerareas
Kinders leer die beste in ‘n geordende omgewing waar frustrasie tot ‘n minimum beperk word. Die akademie is uitgelê in spesifieke leerareas wat fokus op kuns, algemene kennis, wiskunde, taal, sensoriese gewaarwordinge en lewensvaardighede. Dit is ontwerp om onafhanklikheid en besluitneming aan te moedig. Die kinders leer deur aktief deel te neem aan die leeraktiwiteite en die omgewing wat geskep word. Al ons leerareas bevat ouderdomsgepaste leermateriaal wat die kind se natuurlike nuuskierigheid om te leer stimuleer.
Individuele leiding en hulp
Die kinders besluit watter aktiwiteit hulle wil doen en word dan individueel deur die onderwyseres gelei en gehelp sodat hulle dit korrek doen en progressief leer. Baie aandag word daaraan bestee om die kinders te help met lewensvaardighede en die korrekte gebruik van items en leermateriaal, soos die regte potloodgreep en knipvaardighede. Dit is belangrik dat hierdie vaardighede van die begin af reg ontwikkel word of dan vroegtydig reggestel word om latere probleme te verhoed wat op skool ‘n agterstand kan veroorsaak.
Die stimulering van kreatiwiteit
In die vryspelareas en tydens groepaktiwiteite word die kinders aangemoedig om kreatief te dink en te speel, en met hul maatjies te deel.
‘n Gebalanseerde program
KleuterAkademie se program is so uiteengesit sodat die kinders ‘n gebalanseerde hoeveelheid tyd aan gestruktureerde leer, groepaktiwiteite en vryspel bestee. Elke aktiwiteit is daarop gemik om kinders emosioneel en sosiaal te ontwikkel.
Tema en letter/konsep van die week
- Elke week word ‘n tema behandel met aktiwiteite wat rondom die tema beplan word. Dit ontwikkel die kinders se algemene kennis en woordeskat.
- Ons behandel ook elke week ‘n nuwe letter, klank of konsep.
- Die kinders kan konkrete items of prentjies van die huis af bring wat oor die tema of konsep gaan of met die klank van die week begin.