Ons leerplan
KleuterAkademie is ‘n Afrikaanse Christelike opvoedingssentrum vir 2- tot 5-jariges. Ons kombineer verskeie opvoedingsbeginsels om kinders met die basiese lewensvaardighede toe te rus en hulle skoolgereed te kry.
Daarby skep ons ‘n veilige, positiewe en gelukkige omgewing waar kinders gemaklik voel en tot hul volle potensiaal kan ontwikkel om sodoende ‘n sterk selfbeeld te bou. Die omgewing is goed gestruktureerd en stimulerend sodat kinders kan ontdek, leer en speel. Dit dra daartoe by dat kinders veilig voel om hul eie belangstellings, persoonlikheid en behoeftes te ondek en uit te leef.
By KleuterAkademie word kinders onderrig deur onderwyseresse wat tans besig is met hul studies of reeds gekwalifiseer is.
DIE AKADEMIE SE OPVOEDKUNDIGE BEGINSELS IS GEGROND OP TEGNIEKE WAT DIE VOLGENDE BEVORDER:
- Motoriese vaardighede
- Selfontdekking en kreatiwiteit
- ‘n Verantwoordelikheidsin
- Godsdienstige en etiese waardes
- Gesonde sosiale verhoudings met maats en volwassenes
- Respek vir eie en ander se besittings, tyd en spasie
- Lewensvaardighede
- ‘n Positiewe selfbeeld
- Skoolgereedheid
Tema en letter/konsep van die week
- Elke week word ‘n tema behandel met aktiwiteite wat rondom die tema beplan word. Dit ontwikkel die kinders se algemene kennis en woordeskat.
- Ons behandel ook elke week ‘n nuwe letter, klank of konsep.
- Die kinders kan konkrete items of prentjies van die huis af bring wat oor die tema of konsep gaan of met die klank van die week begin.
Wat KleuterAkademie alles doen om kinders se leerproses te ondersteun
Die weeklikse tema word uitgebeeld deur ‘n skeppende aktiwiteit wat baie belangrik is vir perseptuele vaardighede. Fynmotoriese, visuele en kreatiewe vaardighede word ook daardeur ontwikkel. Dit is belangrik dat die kinders die aktiwiteite self moet doen om hierdie vaardighede te oefen en die genot van kreatiewe werk te ervaar.
Lewensvaardighede
‘n Kind wat basiese lewensvaardighede met gemak kan baasraak, het meer selfvertroue en is meer selfstandig. Aktiwiteite sluit in knope en veters vasmaak, rygwerk, die oorgooi en oorskep van water of items van houer tot houer, en die oopdraai en oopmaak van houertjies. Hierdie vaardighede ontwikkel fynmotoriese spiere en hand-oogkoördinasie.
Kuns
Die weeklikse tema word uitgebeeld deur ‘n skeppende aktiwiteit wat baie belangrik is vir perseptuele vaardighede. Fynmotoriese, visuele en kreatiewe vaardighede word ook daardeur ontwikkel. Dit is belangrik dat die kinders die aktiwiteite self moet doen om hierdie vaardighede te oefen en die genot van kreatiewe werk te ervaar.
Sport
Bewegingsopvoeding vorm deel van die weeklikse program en dit bestaan uit georganiseerde aktiwiteite en speletjies. Dit is hoofsaaklik daarop gemik om grootmotoriese vaardighede en hand-oogkoördinasie te ontwikkel. Kinders het ‘n natuurlike geneigdheid en begeerte om te verken en te ontdek. Tydens vryspel word die kinders ook aangemoedig om hul eie vaardighede te ontdek en te bemeester.
Bak-en-Brou
Elke tweede Vrydag bak en brou ons. Dit leer kinders van hoeveelhede en basiese konsepte soos temperatuur en tekstuur. Dit ontwikkel ook hand-oogkoördinasie en fynmotoriese vaardighede. Daarby is dit sommer net lekker pret.
Musiek
Musiek is ‘n verpligte ekstra aktiwiteit wat elke week tydens skoolure deur ‘n professionele musiekonderwyseres aangebied word. Die kinders sing, dans, dramatiseer, speel ouderdomsgepaste instrumente, word blootgestel aan verskillende kulture en tale, en doen basiese ensemble werk. Dit bevorder gehoorontwikkeling, konsentrasie, leesvaardighede en die korrekte uitvoering van opdragte.
Ekstra Aktiwiteite
Twee ekstra aktiwiteite word elke week beplan wat bespreek of uitgepak word vir die kinders om mee te werk, te leer en te ontdek. Dit sluit in wetenskap, sensoriese en fynmotoriese aktiwiteite, mondspier-oefeninge, konsepte (vorm, kleur, tyd, grootte en lengte), liedjies en rympies.
Instappies en Aktiwiteite
Ons bied deur die loop van die jaar ‘n verskeidenheid instappies en aktiwiteite aan. Ons wil graag die kinders blootstel aan ‘n wye verskeidenheid lewenservarings wat stimulerend en opbouend is. Ons sal u vroegtydig hiervan in kennis sal stel sodat u kan saamgaan indien u wil. Die boeties, sussies en grootouers is ook welkom om saam te kom op die uitstappies.