Ons geskiedenis en stigter
Juanita van der Walt, stigter en hart van KleuterAkademie, het ‘n groot behoefte raakgesien aan goeie kleuterskole in die omgewing. Daarom het sy besluit om haar eie opvoedkundige kleuterskool vir haar twee seuns oop te maak. So het Sonstraal KleuterAkademie in 2010 begin met 6 kinders en 2 onderwyseresse. Dit was ‘n klein begin in Juanita se braaikamer, en die skool was slegs halfdag oop tydens die skoolkwartale.
KleuterAkademie het vinnig gegroei en die aanvraag was daar. Met haar unieke program en gestruktureerde aktiwiteite het sy ‘n wenresep gehad. In September 2011 het Sonstraal KleuterAkademie verskuif vanaf haar huis en Durbanville KleuterAkademie het sy deure oopgemaak in The Crest, Durbanville. Dit was oop vir voldag inskrywings en ook tydens skoolvakansies. Die getalle het net gegroei en gegroei. Juanita het vinnig gesien daar is ‘n aanvraag in die groter Durbanville area. So het Eversdal KleuterAkademie die lig gesien Oktober 2013 in Kendalweg. Kort daarna het sy nog ‘n perseel bekom en Sonstraal KleuterAkademie maak oop Januarie 2015 in Van der Byl Straat, Durbanville.
Net klasgee was nie genoeg nie en Juanita het van die begin af uitstekende konserte gereël en op die planke gebring. Die eerste konsert was gehou in die Durbanville Rugbyklub. Baie klein met min kindertjies. So groei die skole en maak ons nou ‘n groot verhoog en saal vol met pragtige musiek, ligte en dekor. Dit het nou al so gegroei dat ons drie aparte konserte in ‘n propvol saal aanbied.
Dit is vir ons hartseer dat Liewe Jesus sy engel Juanita kom haal het. Maar dit is ook vir ons ‘n groot voorreg en eer om haar passie en toewyding voort te sit met die vier KleuterAkademies onder leiding van haar man, Waldo van der Walt.